Kwartaal 4 Week 3

Jona

I - IDENTITEIT (FAITH)

 

Lees: Jona 1 tot 4.  Dit is ‘n lekker kort boek wat jy lekker kan deurlees.  

Kyk: www.youtube.com/watch?v=jO2QsF_nnIU.

1) Hoekom dink jy het Jona gevlug van God af?

Jona kon bang wees om so vreeslike boodskap te gaan bring – en dit aan sy vyande! Ander mense dink Jona was eintlik bietjie selfsugtig – hy wou hê die Nineviete moes doodgaan en nie ‘n kans kry om te hoor God gaan hulle straf nie – hulle verdien dit mos! Ander kan ook dink dat Jona net nie in homself geglo het nie en wou nie hierdie groot verantwoordelikheid dra nie. Almal stem egter saam – Jona is ongehoorsaam! Later is Jona selfs ondankbaar oor die komkommerplant!


2) Eintlik is Jona so ietsie van al die dinge hierbo – Bang vir ander mense, selfsugtig, glo nie in homself en sy gawes en talente nie – ONGEHOORSAAM!  Watter ander dinge lees jy in die storie wat jou pla van Jona se persoonlikheid/menswees?

Lees die storie weer mooi en kyk bietjie watter dinge jy dalk kan raaksien oor Jona se persoonlikheid/menswees.


3) Het jy al ooit gevoel jy wil van God af wegvlug?

Dit is interessant hoe Jona vlug – Hy vlug in die teenoorgestelde rigting van Nineve. Hy wou so ver weg van God af kom hy is selfs bereid om op die see te reis (Die Israeliete was eintlik baie bang vir die see – hulle het geglo dit is VOL seemonsters en bose gediertes!


4) Hoe verskil Jona en Daniël as mense? Dit vat Jona 3 dae en 3 nagte om die gebed te bid.  Dink weer bietjie terug aan verlede week se les oor WIE GOD IS en Daniël.

Daniël het geglo dat God selfs daar in ‘n vreemde land by ‘n vreemde plek teenwoordig is en Hom sien en hoor en beskerm.  Jona het gedink Hy kon wegvlug.  Daniël het gereeld gebid en met God connect.  Jona bid eers na 3 dae en 3 nagtein ‘n vis se maag  ‘n mooi gebed. Daniël se prentjie van God is baie groter as Jona s’n en daarom is Daniël se verhouding met die Here ook soveel meer special.


5) ‘n Vis se maag is ‘n snaakse plek – tussen al die reuke en halfgeverteerde kos en ander gross dinge laat dit mens nogal dink oor jouself en die pad wat jy stap.

 

Lees: Jona 2:1 – 9

Kyk: moderne weergawe van Jona se storie:

https://www.youtube.com/watch?v=EHln3H9i4mI

 
Lees: Psalm 139:1 – 12

6) Kyk of jy uit ‘n paar ander vertalings dit ook kan lees. Dink jy Jona kon aan hierdie Psalm se woorde gedink het daar in die vis se maag?

Ek dink nogal so! En ek dink die besef dat die Here hom ken en Hy nie vir die Here kon vlug nie was nogal ‘n ding wat hom diep getref het! Ek dink ook die wete het vir Daniël gehelp – die wete dat die ALMAGTIGE God jou ken is nogal iets WOWS!


7) Die Psalmdigter begin met “ Here U sien dwarsdeur my, U KEN MY.”  Hoe laat dit jou voel om te weet die Here KEN JOU?
Die Here het Jona geken.  En tog stuur Hy hierdie ou met hierdie baie selfsugtige, bangbroek, ongehoorsame persoonlikheid wat so lui en lusteloos ook die preek gee (sy preek is NET 5 woorde in Hebreeus!).  Jona se verhaal wil eintlik vir ons ‘n spieël ophou – Jona se storie is ook ONS storie!  Ons is baiekeer ongehoorsaam!  Ons is baiekeer selfsugtig!  Bang- vir mense en oor ons nie in onsself glo nie!  Ons dink baiekeer ons is “junk”!  Ons sit God in ‘n boksie en dink ons kan vlug van Hom!  En ons kan aangaan met die lysie...jaloers op ander mense (ons vyande!) wat ook genade kry, ondankbaar en kwaad as dinge nie gaan soos ons dit wil hê nie...en nog baie ander dinge... en TOG lees ons wat soos Jona is “HERE U KEN MY...”. Dit is wonderlik om te weet dat die Here my ken...ook my slegte kant en tog BLY Hy lief vir my en werk met my soos met Jona!

8) Dink jy God het ongeduldig geword met Jona?

NEE, Hy het aanhou met Jona werk om Hom te help besef Wie die Here is en ook WIE JONA (ek en jy) is – iemand wat gehoorsaam KAN wees, iemand wat vir ANDER mense kan liefwees en omgee, iemand wat SAAM met ander mense (SELFS SY VYANDE!) in God kan glo en God SAAM kan aanbid en BLY wees oor God en God se Skepping, iemand wat NIE HOEF BANG TE WEES NIE, want GOD KEN ONS EN HY IS BY ONS!


9) As jy vandag in hierdie Jona storie as ‘n spieël kyk - wat sien jy raak oor jouself?
 

10) As jy Psalm 139:1 – 14 lees – wat hoor jy oor Wie God is en wie JY is?  

Psalm 139 vertel dat God ALWETEND is – wat beteken HY KEN MY!  Dit vertel ook dat God ALOMTEENWOORDIG is – wat beteken HY LOS MY NOOIT!  Dit vertel ook vir my dat God ALMAGTIG is – wat beteken dat HY MY GEMAAK HET AS ‘N UNIEKE WONDERWERK – en Hy kan selfs deur my foute steeds iets amazings doen in en deur my lewe!
 

DOEN:

Doen 10minute Stiltetyd deur Psalm 139 te lees. Deel die Psalm vir jou op in 3 dele –

Ps 139:1 – 6 – dink veral aan God wat JOU KEN!

Ps 139:7 – 12 – dink veral aan God wat ORAL by jou is!

Ps 139:13 – 18 – dink aan God wat jou GEMAAK het!

Ps 139: 19 – 24 – dink aan God wat jou en ander mense (ja ook jou vyande wat jy dalk haat!) bly werk en nie opgee op ons nie.

 

Kry elke dag wat jy ‘n stukkie doen net EEN vers uit die stukkies, leer dit, onthou en gaan BID daardie vers deur die dag – ten minste drie keer!