top of page

Belydenis van Geloof

Ysbreker: Wat het jy by jou Matriekafskeid aangehad?


Open met gebed


Vraag: Wanneer, waar het jy Belydenis van Geloof afgelê? Of het jy nog nooit nie?

Vraag: Was jy dalk in 'n gemeente wat 'n ander Belydenis van Geloof gebruik het?

Vraag: Ken jy die Belydenis van Geloof uit jou kop uit?

Kyk/Luister: Belydenis van Geloof

Vraag: Wat is die oorsprong van die Geloofsbelydenis wat die NG Kerk gebruik?

Noem: Deur die eeue bely Christene reg oor die wêreld saam hulle geloof in die woorde van die Apostoliese Geloofsbelydenis. Nie net die NG Kerk nie.

 

Die naam Apostoliese Geloofsbelydenis (in Engels, “The Apostles’ Creed”) wys daarop dat dit die geloofsbelydenis van die apostels was. 

Volgens legende en historiese geskrifte het die twaalf apostels voordat hulle Jerusalem verlaat het, om die evangelie na die verskillende wêrelddele uit te dra, vir oulaas bymekaar gekom. By dié byeenkoms beraadslaag die apostels oor wat die inhoud van hulle verkondiging moet wees, sodat hulle nie verskillende dinge verkondig nie.

Aanvanklik was daar net een Christelike kerk, met gemeentes verspreid in Noord-Afrika, Midde-Ooste, Asië en Wes-Europa. In hierdie tydperk het die drie (Ekumeniese) Geloofsbelydenisse tot stand gekom, wat toe deur die kerk gebruik is om uitdrukking en inhoud te gee aan die Christelike geloof. Die NG Kerk onderskryf dan ook hierdie drie kort belydenisse oor God Drie-enig wat deur die meeste kerke wêreldwyd aanvaar word, naamlik die:

1) Apostoliese Geloofsbelydenis,

2) Geloofsbelydenis van Nicéa (381nC)

3) Geloofsbelydenis van Atanasius (450nC) (Wikipedia)

In die jaar 1054 het die Christelike kerk finaal in twee geskeur met die totstandkoming van die Oosterse Ortodokse kerk (met Konstantinopel – die huidige Istanbul – as hoofkwartier) wat van die Westerse (Katolieke) Kerk weggebreek het. Vanuit die “ou” Westerse kerk, met Rome as die hoofkwartier, het die Protestantse-kerkbeweging (Hervorming) in die 15de en 16de eeu ontwikkel. Die Duitse monnik Martin Luther was deel hiervan. Talle Protestantse gemeentes het in die lande van Wes-Europa tot stand gekom.

 

In Wes-Europa het daar dus tot die 17de eeu, ‘n groot verskeidenheid van Protestantse gemeentes ontstaan waarin ‘n hele aantal (anti-Roomse) geloofsbelydenisse gefunksioneer het. Die sinode van Dordtrecht (1618-1619) was onder andere ‘n poging om hierdie Protestantse uitdrukking van die Christelike geloof te konsolideer. By hierdie sinode is die Drie Formuliere van Enigheid aanvaar. Dit vorm ook die belydenisgrondslag van die NG Kerk, omdat dit in ooreenstemming met die Bybel is. Daarin word ons gereformeerde verstaan van die Christelike geloof geformuleer. Hierdie Formulier van Enigheid bestaan uit drie geloofsbelydenisse, naamlik:

1) Nederlandse Geloofsbelydenis

2) Heidelbergse Kategismus

3) Dortse Leerreëls

Die NG Kerk fundeer sy leer op die Bybel. Die Bybel is die onfeilbare Woord van God. In dié Woord openbaar God Hom as Vader, Seun en Heilige Gees. Die Kerk verklaar dus haar onvoorwaardelike gehoorsaamheid aan die wil van God soos dit in sy Woord geopenbaar is.

Vraag: Word ons gered deur die Geloofsbelydenis af te lê in die kerk in Graad 11?

Noem: Nee. Ons redding is tussen ons en God. 

Vraag: Waarom lê ons dan Belydenis van Geloof af in die kerk in Graad11?

Noem: Ons plaas roetemerkers op ‘n pad wanneer iets belangrik daar gebeur of wanneer ons nie ‘n plek wil vergeet nie. Om belydenis van geloof af te lê, is ‘n geleentheid vir ons om tussen ander gelowiges wat vir ons omgee te antwoord op ons doop. Die doop is ‘n teken daarvan dat God ons gekies het – selfs voor ons dit kon verstaan.  God se liefde is nie iets wat ons kan verdien deur ons dade nie, dit is iets wat ons kan kies en deur genade ontvang die dag wat ons, ons hele lewe (hart, siel en verstand) aan God gee as lewende offer. Wanneer ons dan ons geloof bely voor ander gelowiges, erken ons voor getuies dat ons Christus kies as ons God en Verlosser. Ons erken voor ander dat ons Christus se genade en liefde kies.

Hier volg die vrae waarop jy versoek word om voor God en sy gemeente opreg te antwoord:
Ten eerste: Glo jy dat die leer soos in die Ou en Nuwe Testament en in die
artikels van die Christelike geloof vervat is en in die kerk hier geleer word, die
ware en volkome leer van die verlossing is?


Ten tweede: Beloof jy om as lidmaat van die gemeente van Christus deur sy
genade in die belydenis van die leer tot die einde van jou lewe te volhard, en
alle Ieringe wat daarvan afwyk, te verwerp?


Ten derde: Bely jy dat die Here Jesus Christus jou persoonlike Verlosser is
en dat jy Hom liefhet? Beloof jy om Hom te dien, sy Naam getrou te bely voor
die mense en om aktief aan die werksaamhede van die kerk deel te neem?


Ten slotte: Beloof jy dat jy jou onderwerp aan die kerklike opsig en tug?

Noem: Net soos by 'n huwelik het ons as gemeente dan mede-verantwoordelikheid vir die versorging van die lidmate wat 'n getuienis of belofte voor ons gemaak het.

Dit word so saamgeneem:

Gemeente, sien om na hierdie lidmate, ontvang hulle as mede-lede van die
liggaam van Christus. Moedig hulle aan tot liefde en goeie werke en bid vir
hulle. Leef in liefde met mekaar saam, want ons Heiland het gesê: "As julle
mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is."

Doen: Luister weer die Geloofsbelydenis of lees dit hardop. Bid nou saam dat julle elke dag die belofte sal onthou wat julle aan God gemaak het. Bid dat julle mekaar sal ondersteun en aanmoedig tot liefde en goeie dade. Bid dat julle as mede lede van die Liggaam van Christus saam sal groei om God se Woord, Wil, Genade en Liefde beter te kan verstaan. Bid dat mense sal kan sien dat julle God se dissipels is.

Kan ook lees:

Matt 28:19

Rom 5:3-8

1 Tim 6 :12
Heb 10:24-25
Joh 13:34-35

Geloofsbelydenis:

Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van hemel en aarde,


En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;


wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria;
wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is,

gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;
wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
wat opgevaar het na die hemel

en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader;
van waar Hy sal kom om te oordeel die wat nog lewe, en die wat reeds gesterf het.


Ek glo in die Heilige Gees;


ek glo aan 'n heilige, algemene Christelike kerk,
die gemeenskap van die heiliges,
die vergewing van sondes,
die opstanding van die vlees en in 'n ewige lewe.

bottom of page