top of page

 VERTROU

Keuses

Ysbreker: Speel “Sou jy eerder” met die groep en vra die volgende vrae:

1. Sou jy eerder 10min in die toekoms in kon sien of 150 jaar in die toekoms in kon sien?
2. Sou jy eerder voorwerpe met jou brein kon beweeg of eerder ander se gedagtes kon lees?
3. Sou jy eerder in ‘n span saam met Iron Man of Captain America wou wees?
4. Sou jy eerder 5 jaar in die tronk wou wees of 10 jaar in ‘n koma wou wees?
5. Sou jy eerder vandag die liefde van jou lewe wou ontmoet of volgende jaar die Lottery wen?

Open met gebed

Lees saam: Genesis 13:1-18

Gesels saam:
1) Verbeel jou jy was Lot. Watter stuk grond sou jy gekies het? Hoekom?


2) Aan wie dink jy het Lot gedink toe hy hierdie stuk grond gekies het?
(Lot se keuse lyk selfsugtig omdat hy die beste deel vir hom gekies het.)


3) Hoe dink jy maak mense vandag belangrike keuses? 
(Hulle dink wat die beste vir hulleself sal wees.)


4) God seën vir Abram om vir ander tot seën te wees. Wat leer hierdie verhaal ons oor Abram se gesindheid teenoor ander mense wanneer hy Lot toelaat om eerste te kies?
(Abram vertrou op God en glo God sal sy belofte nakom. God is steeds getrou aan Abram ten spyte van Lot se keuse. God se seën werk te midde van mense se keuses.)

5) Hoe neem jy besluite in jou lewe? Maak jy ooit vir God deel van jou keuses?
 

6) Hoe kan jy beter keuses maak?

(Vra vir God wat jy moet doen. En vertou dan vir God.)


7) Hoe kan ons weet dat God by ons bly, ten spyte van ons en ander mense se verkeerde keuses?
Kyk na die stories in die Bybel. Ons kan kyk na al die voorbeelde in die Bybel waar mense God teleurgestel het met hul swak keuses of ander se vrot keuses. God het hulle nooit verlaat nie:
>  God seën vir Abraham al kies Lot die beste grond.
>  God seën vir Josef al kies sy broers om hom in ‘n put te gooi en te verkoop as slaaf.
>  God seën vir Dawid al maak hy ‘n swak keuse met Batseba.
>  God seën vir Jona al kies Jona om te probeer weghardloop.
>  Jesus seën sy dissiepels al kies hulle om weg te hardloop toe Jesus gekruisig word.
>  Jesus seën die man wat langs hom aan die kruis hang – al het die man se keuses hom daar gesit.
>  God seën ons deur te sterf aan ‘n kruis juis omdat God weet dat ons swak keuses gaan maak.

8) Wie lê soms wakker in die nag agv keuses wat ons regering neem?
 

9) Vir wie was dit sleg dat ‘n dominee gekies het om ons gemeente onverwags te verlaat? (Seker vir meeste.)
 

10) Wie van ons het al keuse gemaak waaroor ons later spyt was?

(Seker almal van ons.)

Noem: In ‘n tyd van onsekerheid met ‘n nuwe dominee en ‘n land wat voel of dit van krisis na krisis beweeg moet ons gemeente (ek en jy) vertrou op God en nie op die keuses van mense nie. Ons moet bly glo in God se belofte om hierdie gemeente te lei, beskerm en seën. God is steeds getrou aan NG Kerk Bufeljagsrivier ten spyte van mense se keuses. God se seën werk te midde van mense se keuses en foute.

Lees: Lukas 12:25-34 en Filippense 4:6-7

Gesels saam: Dink aan ’n belangrike keuse wat jy moet maak, soos oor vriende, verhoudings, finansies of oor jou loopbaan. Gesels oor al die mense en hulpmiddels wat jou kan help om reg te kies.

Stuur weg: God bly getrou ten spyte van ons – of ander – se swak keuses.

Vertrou op God.

Bid saam
 

bottom of page