top of page

ROEPING

God roep ons

Ysbreker: Was jy Sondag by ds.Stephan se inhuldiging? Hoe het julle dit ervaar? Wat was vir julle mooi? 

Open met gebed

 Lees: Eksodus 3:1-6

 Lees: Eksodus 3:11-15

Vraag: Dink jy Moses se verlede het dalk 'n invloed gehad op sy hoop vir die toekoms?
Noem: Hy het grootgeword as Egiptiese prins al was hy 'n Israeliet, maar moes vlug vir sy lewe na hy 'n Egiptenaar doodgemaak het en was nou 'n nomadiese veewagter in 'n vreemde land met vreemde mense. Hy het trouens nou 'n soort werk gedoen waarop hy as Egiptenaar sou neergesien het. Sy verlede het hom laat voel hy pas nêrens in nie. Nie 'n Egiptenaar, maar ook nie 'n Israeliet.

Vraag: Dink jy Moses kon God se roeping vir sy lewe raaksien op hierdie stadium?
Noem: Moses kon dit sien (die bos wat brand) en hoor, maar Moses het gesukkel om oor te gaan tot aksie. Wat God op hierdie oomblik van Hom verwag het, het nie vir Moses se menslike brein sin gemaak nie. Moses se verlede het gemaak dat hy getwyfel het in God se roeping en in sy eie vermoëns. Moses kon nie sien hoe die lewe wat hy tans gelei het, besig was om hom voor te bereid vir die lewe wat hy moes leef en die volk wat hy moes bevrei uit Egipte nie. Maar God het 'n plan gehad.

Vraag: Sukkel jy ook soms om te sien waarvoor of waarnatoe God jou roep?
Noem: Ons almal sukkel soms om God se roeping te sien. Het jy al foute gemaak? Het iemand jou al seergemaak of verneder? God is ons vaste rots. Ons dien dieselfde God wat vir Moses gesorg het, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob. Laat God se Gees wat in jou brand jou roeping bepaal - nie jou verlede of ander mense se aksies nie. Moenie ophou soek na God se roeping vir jou nie.

 

 Lees: 2 Timoteus 1:6-7

Vraag: Wanneer is dit "God wat roep" as iets gebeur en wanneer is dit toeval dat iets gebeur?
Noem: Hang af wat jou perspektief op die wêreld is. God werk dikwels op ongewone maniere in 'n mens se lewe. Maar dan moet ons raaksien dat dit God is wat besig is om ons te roep. Alles is God - of niks is God. So besluit vandag wat jou perspektief van die wêreld is.

Vraag: Waarvoor roep God ons gemeente in die toekoms? 

Vraag: Het jy 'n goeie plan vir hoe die nuwe dominee te werk moet gaan? Deel jul idees.

Vraag: Ons gemeente het tans 186 besoekpunte en 500 lidmate. Dink jy almal se "plan" vir ons gemeente is dieselfde as joune? Hoeveel verskillende opinies dink jy is daar? 
Noem:  Natuurlik dink almal nie dieselfde nie. Daar sal baie verskillende opinies wees oor wat, hoe en wanneer die dominee dinge moet doen "om ons gemeente reg te kry." Ds Stephan sal self ook 'n paar idees van sy eie hê.

 

Vraag: Moet almal se idees dieselfde wees vir die "nuwe plan" om te kan werk?
Noem: Dis is nie nodig vir almal se plan om dieselfde te wees nie. Wat wel nodig is, is om respek vir mekaar se opinies en planne te hê. Onthou: nie een van ons wil hê die gemeente moet tot niet gaan of nie God se Wil volg nie. Wat God van ons verwag is om as ligaam van Christus saam te kan werk. Om met liefde, vreugde, vrede, geduld, virendelikheid, goedhartigheid, nederigheid en selfbeheersing saam te werk opsoek na God se plan en roeping vir ons gemeente. Sonder God se liefde kan dit nie God se wil en roeping wees nie.

Vraag: Die sukses van 'n gemeente hang van elke lidmaat se bydra af - nie net van die dominee of kerkraad nie. Waar roep God jou tans om meer betrokke te raak in die gemeente? Hoe wil jy in die toekoms bydra tot die opbou van God se gemeente in Buffeljagsrivier?

Vraag: Hoe kan ons uitvind watter kant toe God vir my en jou en ons gemeente roep?
Noem: Om jou roeping te vind, moet jy nie eers jouself beter leer ken nie - jy moet God beter leer ken. Dis Hy wat jou roep. Bid in jou stiltetyd hiervoor. Bid ook vir Ds.Stephan. Bid ook vir die kerkraad. Bid saam as gesin hiervoor. Bid saam as Groei-groep hiervoor. Kom bid saam op 'n Woensdag 9:30vm by die kerk hiervoor. Bid saam as Gemeente hiervoor by die erediens. En begin dan iets doen. 

 

 Lees: Jakobus 2:14-17

Sluit af met gebed
 

bottom of page