top of page

Die HERDER

Geloof

Ysbreker: Waar is jou gunsteling plek om koffie te drink?

 

Lees saam: Psalm 23
   

Praat Saam:
1) Wanneer jy hierdie teks lees, wat "sien" jy in jou gedagtes?

Noem: Ek sien 'n vet skapie met wit wol wat rol in mooi groen gras.

2) Sien jy n herder in jou prentjie? Hoe lyk die herder? Wat doen die herder?

Noem: In my "prentjie" is daar gewoonlik nie 'n herder nie. Net 'n vet skapie wat rol in die gras. En as daar is, glimlag die herder en laat my toe om in die groen gras rond te rol soos ek wil.

3) Wanneer die teks praat van "Groen Weivelde" - waaraan dink jy in jou daaglikse lewe?

Noem: Goeie werk, mooi huis, mooi motor, 'n vrou wat vir my luister, kinders wat soet is en goed doen in die skool, nuwe bergfiets, gesondheid. Geen bekommernisse.

Noem: Ons moet besef dat die prentjie wat ons het van "groen weivelde" is waarskynlik nie dieselfde as wat die skrywer van hierdie gedig in gedagte gehad het nie. Kyk video as jy kan/wil.

Lees weer: Psalm 23:1  > Die Here is my herder, ek kom niks kort nie.

Noem: Die HERDER sorg dat die skape niks kort nie. Die klem is nie op die skaap nie.

Lees weer: Psalm 23:2-3  > Hy laat my rus in groen weivelde. Hy bring my by waters waar daar vrede is. Hy gee my nuwe krag. Hy lei my op die regte paaie tot die eer van sy Naam.

Vraag: Rus, vrede en krag - is dit nie eintlik waarna ons amal op soek is nie?

Vraag: Soek ons nie te maklik hierdie vrede en krag in geld, mag en posisie nie?

Noem: Die Herder bepaal "die regte pad'. Purpose Driven Life begin met: It is NOT about YOU.

Lees weer: Psalm 23:4  > Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In u hande is ek veilig.

Vraag: Waarna gryp jy wanneer die donderwolke saam trek en die doemprofete iets op Facebook post? Wat laat voel jou "dinge sal oraait wees"?

Noem: Covid, Load-shedding, Regering-korrupsie - waar vind jy jou rus, vrede, krag en regte pad tydens hierdie donker dieptes? Voel jy veilig in jou Herder se hande?

Noem: Te veel keer volg ons net die Herder terwyl dinge goed gaan. In donker tye bou ons altaars en gee offers aan afgode - nes die volk in die woestyn toe hulle vir Moses moes volg.

Lees weer: Psalm 23:5  > U laat my by 'n feesmaal aansit, terwyl my teëstanders moet toekyk. U ontvang my soos 'n eregas, ek word oorlaai met hartlikheid.

Vraag: Hoe lyk daardie "feesmaal" in jou gedagtes? Een waar jy sorg vir geld en gemak, of een waar jou Herder sorg vir rus, vrede en krag?

Vraag: Vra jou teenstanders ooit: Wat het daardie ou wat hom so baie vrede, rus en krag gee? 

Lees weer: Psalm 23:6  > U goedheid en liefde sal my lewe lank by my bly en ek sal tuis wees in die huis van die Here tot in lengte van dae.

Noem: Te veel keer kyk ons na God soos Aladdin na die "genie" gekyk het. Aladdin was in beheer van die "genie" - ons sal nooit in beheer van God kan wees nie. Ons is die skaap en God is die Herder - en ons moet toelaat dat God ons lei na wat ons nodig het vir rus, vrede en krag.

Doen:

Dink aan 3 goed waarvoor jy vandag kan dankbaar wees.

 

Bid:

Bid dat die Here julle as groep/kring/familie/gesin sal help om dankbaar te wees vir die goeie Herder wat GOD vir julle is. Bid dat julle ten volle sal vertrou op God en kan deel hê aan die vrede wat daardie geloof jou sal gee.

bottom of page