top of page

Tyd in afsondering en gebed


Ysbreker: Het jy al vakansie gaan hou op ‘n plek sonder selfoon of wi-fi ontvangs? Vertel.


Open met Gebed
 

Vraag: Het jy al ooit stil onder ‘n boom gaan sit of jou selfoon afgesit in die berg om net die stilte te kan ervaar? Het jy dalk in die stilte dinge begin hoor of sien wat jy nie van te vore het nie?


Vraag: Dink jy ‘n mens sou “anders” kon bid in sulke stilte? 

 

Lees: Luk 4:42

Lees: Luk 6:12

Lees: Mat 14:23

Lees: Luk 22:39-46
Noem: As Jesus gebed so nodig gehad het, hoeveel te meer het ons dit nie nodig nie? 

 

Vraag: Is daar ‘n regte manier om te bid?
Noem: Nee. Daar is nie ‘n regte gebed nie, daar is net opregte gebed.

Vraag: Is dit maklik om te bid?
Noem: Soms. Maar soms is dit moeilik. Soms is daar min om te sê. Soms is God stil. Is dit nie so met meeste verhoudings nie? In die Bybel is daar selfs plekke waar profete met God baklei. God hou van eerlikheid.

 

Vraag: Wat is die belangrikste in ons gebedslewens? 
Noem: Om op te daag – en aan te hou opdaag. Verhoudings verander en groei oor tyd – net so moet ons afsprake maak met God om te gesels. Daar gebeur soms ook iets misterieus as ons net stil by iemand sit.
Noem: Ons moet ‘n gewoonte daarvan maak om op te daag vir gebed.

 

Hier is 3 gebede wat ons dalk meer kan bid:

(lees en bespreek)

1) Bid vir stilte. Ons hele samelewing is verslaaf aan geraas. Dit verlig ons eintlik van ‘n groot las as ons besef dat stilte oukei is. Ons gedagtes word die hele tyd onderbreek en oordonder met beelde en klanke en opskrifte en slagspreuke van buite wat ontwerp is om ons aandag af te trek. En ons verkies dit so. Want dit is hoe verslawing werk. Die probleem is dat al die inligting wat op ons neer-reën, maak dat ons nie lekker weet waar om te fokus nie. Daar is te veel opsies. Altyd nog ‘n moontlikheid, nog ‘n argument, nog ‘n mening. Inligting kan ons help; dit kan rigtingwysers wees. Maar dit kan ons ook verlam. Te veel inligting is soos ‘n orkes met te veel instrurmente. Wees stil en weet Ek is GOD!

Lees: Jesaja 30:15
 

2) Here, breek my hart met die dinge wat U hart breek…. In The Wounded Healer sê Henri Nouwen: “Who can take away suffering without entering it?” Van nature wil ons situasies vermy wat ons harte laat breek. Ons is bang vir dit wat die seerkry van ander aan ons diepste wese kan doen. Ons is bang om nader te gaan, want dit maak die pyn en ongemak in ons binneste wakker. Ons kan nie net omgee wanneer ons skuldig voel of iemand jammer kry nie. Om te kan omgee moet ons “nader” beweeg aan die hartseer. Omgee beteken “om te gee”; as jy omgee, gee jy jou tyd, jou aandag, jou goed, jou geld, jou hart en, volgends Jesus se definisie, uiteindelik jouself.


3) Die derde gebed wat ons te min bid, is die gebed waarin ons aanmeld vir diens. Voodat ons bid, moet ons dalk net eers uitklaar wie werk vir wie. Daar is waarskynlik ‘n klomp dinge wat ons van God vra wat hy eintlik van ons vra. As ons bid vir vrede, moet ons dalk eers vir onsself bid, dat ons sal ophou “moan” en haat saai met ons woorde, en eerder sal aanmeld om vredemakers te wees.

 

Noem: Op die ou end is dit belangriker om te bid as om gebed te probeer verstaan en verduidelik. Tony Campolo sê: “I don’t understand prayer, but I tried to pray and I tried not to pray … and praying works better.”

Sluit af met gebed

Kyk/luister ook gerus na hierdie Youtube video waar Jaco Strydom by NG Weltevreden gepreek het oor sy boek "Leef Lig" tydens die gemeente se 2022 Pinkster.
bottom of page